top of page

Ons storie

IMG_9629_edited.png

Sommige liefdesverhale begin met liefde op die eerste oogopslag. Johan en Minette s'n het begin by 'n kroegopening in die hartjie van die Karoo, in Sutherland, op 30 Oktober 2021.

 

Johan en sy neefs was die barmanne vir die aand, en tussen die mense, die musiek en die gees van die Karoo het iets onverwags gebeur. Minette onthou hoe sy daardie aand vir haar ma gesê het: "Ek het 'n probleem. Ek het 'n kêrel, maar ek dink ek het pas my trouman ontmoet."

Destyds het hulle nie geweet hoe hul storie sou ontvou nie. Minette het net geweet daar is iets besonders aan hierdie man....toe begin die wagtyd.

 

Vir byna 'n jaar was daar net DM's, nuuskierigheid en 'n stille verwondering oor die man wat Minette se hart onverwags laat vinniger klop het. Sy het gehoop hulle paaie sou weer kruis, sonder om te weet wanneer of hoe.

 

Toe, op 8 Augustus 2022, na 'n lang dag van gholf speel en waarskynlik 'n verversing of twee (soos almal vir Johan ken), sien Johan op sosiale media dat Minette in Stellenbosch is, en daar het hulle weer ontmoet. Van daardie dag af het dinge stadig begin ontwikkel.

 

Wel, stadig is dalk die regte woord. Johan het immers nog agt maande geneem voordat hy Minette uiteindelik uitgevra het, maar diep binne haar het sy reeds geweet: DIT IS HAAR MAN.

 

Op 6 April 2023 het Johan uiteindelik die vraag gevra, en haar eerste vraag terug aan hom was "wat se my pa?"

 

Minette het nog altyd geweet sy sou nie ja se as hy nie haar pa se seen gevra het nie maar gelukkig het hy daai groot stap geneem. Minette het wel later uitgevind toe Johan haar pa se toestemming gevra het ,haar pa se antwoord was "Uitvra waarna toe?" Gelukkig was Johan nie afgeskrik nie.

 

In Maart 2025 het Johan en Minette saam met haar pa en tannie Lizelle na Zambia gereis. Op die laaste oggend van die reis, langs die asemrowende Luangwa-rivier met die bosveld wat wakker word om hulle, het Johan die groot vraag aan haar pa gevra. Sy plan was eenvoudig: vra op die laaste dag, want as die antwoord nee is, is die volgende vlug huis toe darem naby. Gelukkig was die antwoord 'n groot ja. Hoe kon dit anders wees met so 'n perfekte toneel in die hart van Afrika?

 

Toe kom 6 Desember 2025.

Zanel en Handro het vir hulle genooi vir 'n safari-uitstappie by Aquila. Wat Minette nie geweet het nie, was dat alles deel van Johan se meesterplan was. Minette was natuurlik heeltemal gefokus op die diere, terwyl Johan se knieë waarskynlik meer gebewe het as enige wild wat hulle daardie dag gesien het.

 

Tot hulle by 'n pragtige piekniekplek gestop het, het Minette steeds niks vermoed nie. Sy was reeds besig om die sjampanje reg te kry toe Johan besluit sy planne lyk anders.

Hy het op een knie afgesak, haar in die oë gekyk en gesê:

"Ek kan my lewe nie sonder jou indink nie."

Dit was Minette se maklikste ja ooit.

n Ja vir die man wat haar hart in Sutherland gevang het.
'n Ja vir die man wat geduldig gewag het op die regte tyd.
'n Ja vir die avontuur wat hulle saam bou.

 

Net daar, tussen die natuur, die stilte en die liefde wat al jare besig was om sy eie storie te skryf, het Johan en MInette se"vir altyd" begin.

 

As Johan en Minette terug kyk, besef hulle dat die mooiste dele van hulle storie nooit die groot oomblikke was nie, maar die hand van God wat stilweg deur elke hoofstuk gewerk het. Deur wagtye, onsekerhede, afstand en die klein wonderwerke tussen in, het Hy hulle na mekaar gelei. Wat eendag net 'n hoop en 'n gebed was, staan vandag voor hulle as 'n werklikheid.

Wanneer Johan en Minette vandag na mekaar kyk, sien hulle nie net die liefde van hulle lewe nie, maar ook elke pad wat hulle moes stap om hier te kom. Elke oomblik se wag was die moeite werd. Elke draai in die pad het hulle nader aan hierdie dag gebring.

Nou begin hulle nie net 'n nuwe hoofstuk nie — hulle begin 'n leeftyd saam. En daarvoor sal hulle altyd dankbaar wees.

bottom of page